Wednesday, July 20, 2011

23 Julie 2011: Saterdag - Florence

Ons het lank gewonder of ons Saterdag 23 Julie ‘n dagtoer moet boek en of ons sommer self die strate moet invaar en na die verskillende attraksies moet gaan kyk. Ons besluit egter dat aangesien ons ‘n hele dag het ons eerder self gaan rond toer – mens stap en soek natuurlik meer maar dan is daar meer vryheid om op plekke te bly en te kyk en natuurlik die ekonomie van Italiee te stimuleer J
Ons begin vroegoggend met ‘n taxi saam met van die meisies van die kursus wat ook die dag in Florence wil spandeer – van die stasie is dit ‘n entjie se stap tot by die “Galleria dell’Accademia” waar ons gelukkig genoeg is dat die tou nie te lank is nie .. Na ongeveer ‘n half-uur se wag is ons voor in die tou reg om van Michaelangelo se wonderlike sculpture werke te sien. Die hoogtepunte is voorwaar die ‘four prisoners’ en natuurlik die Dawid beeld wat net ongelooflik in werklikheid is – ek het altyd gedink dit is kleiner – maar dit is besonders groot. Meters en meters en so ongelooflik ‘real’. Die four prisoners het my ook bygebly want dit vereenselwig die simboliek waarmee baie mense worstel – die vryheid van dit wat mens verhoed om te wees wat jy werklik wil wees.
Na hierdie besonderse ervaring luiter ons na die Duoma waar die toue iets vreeslik is – waar baie kerke nie werklik indrukwekkend aan die buitekant is nie maar meer aan die binnekant is hierdie kerk besonders aan die buitekant .. dit is gebou met groen en groen, wit en pienk marmer wat lieflik vertoon en pas in die atmosfeer van Florence. Aurona koop vir ons roomys terwyl ek geduldig wag om voor in die tou te kom .. ai maar dit was die moeite werd vir my – die binnekant van die Duoma is asemrowend ... dit is ook bekend as die ‘Cattedrale de  Santa Maria del Fiore’ en die konstruksie is begin in 1296. Dit hou met gemak 20000 mense. Die binnekant het die mooiste meesterstukke en mens raak meegesleur deur die ‘magic’ van die grootsheid binne in die gebou.
Ons is ongeveer 2pm klaar met ons besoek en begin begeusterd na die Yellow Bar te soek – ons het by die Restaurant verbygestap vroeer in die week waar toue gestaan en wag het om bedien te word – dit was volgens alle aanduidings dus beslis ‘n plek om te besoek .. ons is nie teleurgesteld nie ... die pizza is iets uit die boeke en gaan verseker weer ‘n paar ure op ‘n treadmill vereis .. selfs die baie loop van die laaste week gaan nie help vir hierdie (hopenlik cholestrolvry) oordoen van ons nie.
Ons stap na die Ponte Vecchio waar goudhandelaars al vir jare goudsmeewerk verhandel waarvoor Florence bekend is. Die Ponte Vecchio is gebou in 1345 en was Florence se eerste brug wat oor die Arno Rivier gebou is en is die enigste oorblywende brug van Florence se middeleeue (ander is blykbaar verwoes in die tweede wereld oorlog). Ongelukkig is die juwele se pryse nie in ons klas nie maar nou ja, ‘n meisie moet bewus wees van waar die beste kopies is.
Ek kan natuurlik nie anders as om te bieg nie .. Op pad na die brug word ek verlei in die Guess winkel in, om my jare lange droom waar te maak om ‘n Guess handsak te besit – die 50% afslag op alle ware help natuurlik om die droom te bewaarheid. Ek verjaar tog immers in ‘n paar maande en mens moet seker dit nou al begin vier ..
Die Pitti paleis is ons volgende stopplek – hierdie paleis is die grootste paleis in Florence en oorspronklik deur Luca Pitti gebou wat ‘n bankier was en ‘n groter paleis wou gehad het as die Medici familie. Hi is egter dood voor die paleis voltooi is en ironies is die paleis deur die Medici familie gekoop in 1549 waar dit toe die woning van die Medici familie geword het. Dit staan bekend vir die asemrowende skilderye, juwele ens. In die laat 18’e eeu was die paleis gebruik deur Napolean as ‘n basis.
Ons is teen die tyd egter so bietjie voetseer en ek dink bietjie minder sensitief vir al die wonderlike werke .. sekerlik ‘n teken daarvan as mens so baie goed in ‘n kort tydjie probeer inpas.
Ons begin die terugtog na St Marco waar ons die bus moet kry terug na Fiesole – die leermarkte verlei ons egter en besondere persente word gekoop vir pryse waarvan mens net droom. My tas kry nog ‘n paar leerprodukte by – maar ek lyk soos ‘n beginner teen Aurona wat vir elke gesinslid nou ‘n pragtige geskenk het.
Die bus laai ons net na 9 af in Fiesole waar ons die aand afsluit met ‘n haasvleis gereg – ek se niks – when in Italy you do as the Italians J

No comments:

Post a Comment