Die laaste dag van die kursus het aangebreek en ons was skoon hartseer dat dit ons laaste dag van 'stap' is na ons klooster toe. Een van die pragtige plekke wat ons verbystap is hierdie hotel - die tuine is ongelooflik mooi met beelde wat oral staan - maar sonder dat dit oordoen lyk.
Vandag was 'n bietjie warmer en met tye was dit selfs benoud binne in die lesingsale. Meeste van die tyd is maar aan groepwerk spandeer en die aanbiedings was gedoen voor ete en na ete.
Die groepe was redelik dieselfde, maar mens kon duidelik die verskil sien tussen die verskillende groepe waar daar meer tegniese vaardighede was, of 'n sterker bestaande navorser in die groep.
Die aand het ons die 'laaste' ete gehad by 'n pragtige restaurant, La Reggia, wat oor die vallei uitkyk. Ek en Aurona beland saam met Gilberto Camera aan die tafel wat ons ore van ons kop afpraat - en dit is nogal nie maklik nie :)
Hy is die Research Director van die 'National Institute for Space Research' in Brazil en ken nogal van die grootkoppe in Suid-Afrika. Wat vir my interessant was is dat daar tog baie meer 'kennis' is tussen deelnemers oor Suid-Afrika as 10 jaar terug toe mense jou nog met 'n frons aangekyk het asof die plek nie bestaan nie.
Die hoogtepunt van die aand is dat Aurona hulle se groep die projek'award' wen .. ek skryf dit toe aan die feit dat sy in die groep was :)
Na ete is daar die normale Grappa aand .. die kuier hou lank aan maar ek verdwyn ongeveer 12:30 .. sulke lang dae is beslis nie vir die meer 'mature' student nie ....

No comments:
Post a Comment